Friday, 18 December 2015

'n Besoek aan die Universiteit

My tyd begin nou hier stadig uitloop. Die vlug word al hoe nader en die dae wat al agter my lê oorweldig die minderheid in die toekoms. Ek was weer hierdie hele week in die skool gewees. Dit is nou daardie tyd van die jaar wat mens nie regtig iets in die skool doen nie, al die werk is afgehandel en dit maak nie sin om nou met 'n nuwe tema aan te vang nie. So ek het in hierdie week drie films in die skool gekyk.

In hierdie week het ek begin om 'n baie vreemde ding te ervaar: om afskeid te neem van die mense hier. 'n Hele paar van die mense hier het in hierdie tyd so bietjie in my hart ingekruip, maar dan is daar natuurlik mense wat mens hier leer ken wat nie 'n ongelooflike indruk op jou lewe maak nie. Op een of ander manier moet mens vir die mense almal "totsiens" of liewer net "baai" sê. Die realiteit is egter so dat ek baie van die mense wat hier leer ken het, heelmoontlik nooit weer gaan sien nie, en ek weet dit ook. Ek hoop egter regtig ek kan nog kontak hou met hierdie mense wat ek saamdra huistoe, in die klein stukkie van my hart waarop "Duitsland" geskryf staan.

Soos ek reeds gesê het, die tyd aan hierdie kant loop, en ek probeer elke moment wat ek nog hier in die verre noorde het benut. Ek was vandag in die Leibniz Universität Hannover. Die hoofgebou van hierdie universiteit word oorspronklik as 'n woning vir die koning gebou, 'n kasteel. As gevolg van hierdie rede is die Universiteit net deur hoe dit lyk alklaar asemrowend. Ek het so 'n knap toer deur die universiteit en spesifiek die fisika fakulteit gekry. Ek het by een van die verjaarsdagpartytjies van 'n kooorlid, 'n fisikus ontmoet, wat vir my hierdie ervaring aangebied het. Dit was ongelooflik gewees en dit was ook baie interessant om te sien wat hy elke dag daar maak. Hulle is tans besig om 'n atoom horlosie daar te ontwikkel en te verbeter, hy het vir my die laborotorium gewys, waar 'n gekonsentreerde lasarstraal deur 'n wolk atome, wat in 'n vakuum hang, gestuur word (Of iets in hierdie lyn ongeveer)

Dit is belewenisse soos hierdie wat ek dink mens nie op 'n toer deur Europa sou beleef het nie. Sondag het ek nog so 'n belewenis ervaar. Ek het Sondag saam die Knabenchor Hildesheim in die Michaelis Kirche gesing. Ons het ontrent die hele naweek gesing, maar die konsert Sondag was regtig iets besonders. Dit was ongelooflik om in so 'n pragtige kerk te kan sing, en dan boonop saam so 'n goeie koor. Die atmosfeer was eufories. Hildesheim as stad is bekend vir die onvasbare hoeveelheid  kerke wat in so 'n klien area is. Dit is ook nie asof dit klein kerkies is nie.

 





No comments:

Post a Comment