Sunday, 6 December 2015

Dag 57

Met elke deurtjie wat ek oop maak, word my asem weggeslaan. Die adventskalender soos 'n horlosie wat stadig die tyd af tel. Ek probeer dit ignoreer, dat dit nie in my gedagtes lol nie, maar elke Sondag as nog een van die kersies brand, besef ek dit is 'n realiteit: my tyd hier kom stadig maar al te seker tot 'n einde.

Ek het al weer 'n redelik tydjie laas voor die rekenaar gekom. Daar is nou so baie om te deel en te vertel. Hierdie naweek (en Donderdag daarby) was regtig ongelooflik. Dit voel soms dat slegte gedagtes verskyn, en dan gebeur daar iets, of ek besef iets wat so klein is, maar op so 'n manier hierdie hele ervaring een duisend keer meer die moeite werd maak.

Donderdag was 'n fantastiese dag net op sy eie. Dit was nie beplan om so lekker uit te draai nie, maar op een of ander manier het dit net. Die dag het begin met 'n fisika toets in die skool. Ek weet nie hoekom nie, maar 'n toets wat goed gaan, maak my altyd gelukkig, net om weer te voel ek weet darrem iets. Daarna was dit maar weer skool soos normaal gewees. Ek is mal oor die skool hierso wat die werk aanbetref en hoe die werk gedoen word, maar oor die kinders is ek nie so totaal gelukkig nie. Ek vind die kinders wat ek by die skool tot dusver getref het (want dit is ook maar alles waarmee ek te doen kry) vreemd. Dit is asof hulle eenvoudig netnie belang stel in die lewe van ander mense nie. Hulle is vasgevang in hulle eie glasboksie, maar die uitsig na buite is heel dof. Ek het dan so 'n bietjie vroeër huistoe gekom. Ek het eintlik nog 'n Duitse periode oor gehad, maar anders sou die hele dag nie uitwerk nie. Ek het ook tot die slotsom gekom dat dit so onbelangrik is wat ek hier eintlik in die skool doen, solank ek net iets doen.

Ek was toe by die huis gewees vir 'n rukkie totdat Walle (my gaspa) my opgelaai het. Ons is toe na Hildesheim. Ons was in die  Hildesheimer Dom, 'n asemrowende kerk, met 'n spesiale geskiedenis. Dalk meer indrukwekkend is die sogenaamde "Duisendjaar oue roosbos" wat teen die muur van die kerk groei. Met 'n geskiedenis wat lui dat Kaiser Ludwig in die jaar 815 daar verlore geraak het op 'n jagtog. Hy het toe op sy knieë gesak en gebid, en sy nekhanger van Moeder Maria het hy op 'n roosbos neergelê. Die volgende oggend toe hy wakker word toe is die bos (in Somer) met sneeu bedek. Kaiser Ludwig het dit as 'n teken geneem en besluit om 'n kapel daar op te rig. Dit het oor die afgelope 1200 jaar ontwikkel tot 'n pragkerk en 'n stad.

Van daar af het ons 'n draai gaan maak by die Hildesheim Weinachtsmarkt. Virseker groter as die een hier in Burgstemmen. Op die ou Markplein is daar 'n klomp Stalletjies uitgepak wat alles net een tema verkondig: Kersfees. Van versierings tot gluhwein is alles daar te koop. Van daar af het ons vinnig deur die stad gestap en op die boonste vloer van 'n winkelsentrum het ons Hildesheim in die donkerte van die nag besigtig. Daarna was ek en Walle na 'n optrede van die Knabenchor Hildesheim in 'n vlugtelingtuiste. Dit was 'n baie interessante belewenis, want ons sing egte Klassieke en Barok liedere met kindertjies wat orals rondharloop en skree. Ek moet sê die plek was so effens chaoties gewees op daardie oomblik, maar een ding kon ek duidelik sien: die kinders is gelukkig. Ongeag al die slegte politiek en probleme wat Duitsland ervaar kon ek iets sien in die glimlag van een vierjarige. Daar word vir hierdie kind die geleentheid gebied om normaal groot te word.  Die kindertjies praat al regtig goed Duits en mens kan die moeite sien wat daar gedoen word om hierdie mense tuis te laat voel.

Duitsland is dalk nie Suid-Afrika nie, maar Duitsland is 'n ongelooflike plek.



No comments:

Post a Comment