Sunday, 29 November 2015

'n Naweek in Hannover (Dag 42- 44)

Ek is nou nie meer heeltemal seker wanneer watse dae was nie, maar ek is agter. Ek het nog so baie om te vertel en daar is net nie genoeg tyd om alles neer te lê nie. Die probleem is dat die dinge gebeur, en selfs die tyd wat niks gebeur nie, doen mens nogsteeds iets want die feit is: die lewe hier gaan aan, net soos wat dit doen in Suid-Afrika. Ek is baie bly om nou te kan sê dat ek nie altyd genoeg tyd het om te skryf nie, want my dae raak al hoe voller.

Hans-Peter Fechter's A Series of Unfortunate Events

Na my kooroefening klim ek in die kar van een van die koorlede. Dit is so gereël dat hulle my by die treinstasie gaan aflaai. Gelukkig kom die seun saam, want die kaartjie automaat vat nie geld kleiner as tien euro nie en vir een of ander rede wil my vyf-euronoot nie aanvaar word nie. Op die ou einde kry ek 'n kartjie en sit ek op die bankies by die treinstasie en wag. ek klim op die trein met my klein tassie vir die naweek en my ukulele, en begin met die nie so lang reis na Hannover.

In Hannover word ek opgelaai deur die gasfamilie van Carita van den Berg 'n ander uitruilstudent wat ook deur dieselfde program hier uitgekom het. Ons het mekaar eers 'n paar weke vroeër ontmoet by een van die FSA se vergaderings, maar ons het vasgestel dat ons min of meer in dieselfde rigting oppad is. Ons het toe al besluit dat ons ten minste een keer gaan kuier, want ek bedoel ons altwee is basies in dieselfde bootjie. Haar gasfamilie bly op die hoogste verdieping van 'n woonstel, in die middel van Hannover. Dit is 'n heeltemal ander ervaring, as wat ek hier het, met ons huis en die tuin met eende en hoenders en 'n miniatuur aartapel boerdery. Ek is wel nie bang vir die stad nie, Pretoria is darrem ook 'n stad.

Haar gasfamilie was baie oulik gewees. Hulle praat met Carita Engels en hulle Engels is redelik goed. Een van hulle dogters was vir 'n jaar op 'n uitruil in Nieeu-Seland gewees, so alhoewel sy Duits is praat sy Engels met 'n Kiwi aksent. Ons het Saterdag Hannover ingevaar, met 'n bladsy uit die telefoonboek as kaart, en 'n redelike onskere plan. Ons het op die ou einde besluit om 'n draai te gaan maak by die Sprengel museum vir moderne kunste, op die oewer van die Maschsee. Dit was 'n baie vreemde ervaring om deur 'n kunsmuseum te dwaal met geen idee of agtergrond kennis oor die werke daar binne nie. Dit was moeilik om alles kuns te noem, want van die werke was regtig ongelooflik vreemd, maar ek het na Duitsland gekom met die plan om nuwe goed te probeer en hierdie was definitief een van die nuwe goed. Voor die museum het ons egter 'n draai gaan maak by die Neues Rathaus, wat in 1913 in gebruik geneem is. Dit is regtig 'n pragtige gebou en lyk soos 'n sprokieskasteel binne en buite.

Ons het die hele dag met die trein rondgery, en dit was ook vir my fantasties om daardie gevoel van vryheid te beleef - totale onafhanklikheid. Ons het besluit dit is tyd vir 'n roomys al was dit onder tien grade celsius gewees. Daar is eenvoudig nie 'n tyd wat 'n roomys nie werk nie.

Sondag het ons die stad aangepak met een misie - om Starbucks te kry. Dit was nie baie moeilik nie aangesien daar een op die treinstasie was. Van daar af het ons by die Marktkirche uitgekom en toe ons by die kerk uitkom toe begin dit sneeu. Ons het eers Carita se foon gebruik om fotos te neem, maar dit het pap geword toe begin ons myne gebruik. Die Duitsers het dit nie noodwendig as sneeu gesien nie, maar ysreën. Vir my was dit koud, wit en sag, genoeg om dit as sneeu  te klassifiseer. Wat sneeu wel is, is ongelooflik koud. Met die dat die sneeu so vinnig gesmelt het, het mens sommer saam die koue ook nat geword. Dit is die dat ons toe skuiling begin soek het. Ons het geweet die Rathaus is oop, en warm. Ons het daarnatoe gehardloop...en ek het by die trappe opgejaag om warm te word. Met die dat ons my foon as kamera gebruik het was dit in my baadjiesak, en toe ek die trappe op is, toe is my foon nie meer daar nie. My foon het onder gebly, maar met die pad na die grond toe het die skerm totaal gebreek, en so erg dat die selfoon onbruikbaar is. Dit was natuurlik baie sleg, maar die dag was so mooi en so perfek dat dit nie my op daardie oomblik te veel om kon krap nie.

Ons het later half gevries, maar baie gelukkig weer by die huis uitgekom. Ons het aandete geëet, en daarmee het ek die eerste vaartyd van my trein verpas. Dit was wal nie 'n probleem nie, want daar ry nog een 'n uur later. Ek was reg vir die tweede trein, maar êrens was daar 'n gaping in die kommunikasie, ek het gedink hulle gaan my na die treinstasie toe ry soos wat hulle my opgelaai het, met die kar. Hulle het gedink ons gaan met die U-bahn daar uitkom. Op die ou einde het ek dit besef en het ons met die U-bahn by die hoofbaanhof uitgekom, nognie laat nie, maar effens knap. Ek koop toe 'n kaartjie na Nordstemmen, maar op die kaartjie staan daar nie op watter baan die trein ry nie. Ek sien toe 'n trein na Hildesheim met dieselfde vaartyd as my trein en in dieselfde rigting, en klim toe op die trein. Die oomblik wat die trein weggevaar het, het ek geweet ek is nie op die regte een nie, maar daar was niks wat ek kon doen nie. My foon is gebreek. Ek ken nie my gasfamilie se nommer uit my kop uit nie. Die leêr met die nommers lê by die huis in Burgstemmen. Op daardie oomblik besef ek, ek kan vir niemand laat weet waar ek is nie. Die enigste ding waaroor ek gestres het is dat my gasfamilie stres, want ek was eintlik nie verlore nie, net laat. Ek het hulle vooraf laat weet dat ek tien voor agt by die treinstasie in Nordstemmen gaan wees. Dit is egter toe nie meer moontlik nie. Ek het al klaar 'n haalfuur laat by die treinstasie in Hildesheim uitgeklim en geweet ek moet nou 'n kaartjie terug koop na Nordstemmen. Ek het wel net 'n twintig euro-noot gehad en soos ek vroeër genoem het die masjien vat net tot by tien euro. ek het toe vinnig met 'n man wat daar gestaan het geld geruil om 'n kaartjie te koop, maar ek het dit baie sterk oorweeg om nie een te koop nie.

Ek was egter baie bly dat ek dit wel reg gekry het, want die oomblik wat die trein sy deure toegemaak het, is die kaartjies gekontroleer. Ek was gladnie lus om hierdie hele storie aan 'n beampte te verklaar nie. Ek het toe so negeuur se kant by die treinstasie in Nordstemmen uitgeklim en het begin huis se kant toe loop. Gelukkig laai my gaspa my toe op, om my te infromeer dat die bundespolizei my soek en dat die baanowerhede my naam en beskrywing orals afkondig. Ek kan net indink wat hulle sê: "Ons soek vir Hans-Peter Fechter, 'n sestienjarige seun met rooi hare en 'n swart baadjie, wat Duits kan praat, maar met 'n Hollandse aksent en uit Suid-Afrika kom."

Gelukkig het ek op die ou einde veilig by die huis uitgekom.




No comments:

Post a Comment