Monday, 23 November 2015

Terugblik na Dag 39

Ek vra persoonlik omverskoning vir die lang blog-stilte, ek was eenvoudig net te besig. Die goeie nuus is dat ek nou onfgelooflik baie het om te vertel. Laas week was gevul met chaos, met woede en ook natuurlik met baie vreugde. As gevolg van die verloop van die tyd gaan ek alles nie noodwendig chronologies deurgee nie, maar eerder volgens tema.

Ek gaan begin met een van die grootste kwelpunte op die oomblik in Duitsland. Dit oorheers die nuus hier, gesprekke in skole,  tannies om koffietafels en ek is seker as die Duitsers gebraai het sou dit definitief om die vuur bespreek word. Ek was Dinsdag oppad na 'n beplande hoogtepunt van my verblyf hier in Duitsland, 'n internasionale sokkerwedstryd. Duitsland teen Nederland, in Duitsland, 'n "dit gebeur net een keer in jou lewe" tipe ervaring. Almal was natuurlik baie skepties oor of hierdie wedstryd wel gaan plaasvind, met die tereur aanvalle wat net die vorige naweek by 'n Duitse sokkerwedstryd in Parys gebeur het. Hierdie sokkerwedstryd sou ook dien as 'n stand teen hierdie terrorisme, met die Duitse Bundeskanselaar, Angela Merkel wat self haar teenwoordigheid in die stadion duidelik sou maak. Oppad na die wedstryd, met my gemoedere hoog en 'n Duiste sokkertrui aan my lyf, het ek na die HDI Arena in Hannover vertrek. Toe ons net in Hannover ingekom het, hoor ek oor die karradio: "Die sokkerwedstryd is op kort kennisgewing afgestel, as gevolg van 'n moontlike bedreiging" Emosies en gedagtes het oormekaar en deurmekaar deur my gedagtes gestroom: ongeloof, angs...woede. Ek kon nie glo dat die terreur gevaar so sterk kon wees, dat dit selfs iets in my lewe kon ontwrig. Aanvanklik was dit nie baie duidelik hoekom die wedstryd afgestel is nie.

Die rede het eers later die lig gesien toe die Duitse owerhede verklaar dat hul ingelig is van 'n wesenlike bom gevaar in die stadion, deur die Franse geheime dienste. Daar is gelukkig geen bom op die perseël gevind nie, maar ek stem saam dat mens eerder dit veilig moet speel in situasies soos hierdie. Die groot hoeveelheid mense en die teenwoordigheid van Angela Merkel het die wedstryd na my smaak te veel van 'n teiken gemaak. Ek was eers kwaad dat hierdie geleentheid van my af weggeneem is, maar later het ek meer tot my sinne gekom. Daar het die afgelope ruk soveel slegte dinge in die wêreld gebeur dat 'n sokkerwedstryd 'n klein opoffering is wat ek moes maak in vergelyking. Ons het toe in plaas van die sokkerwedstryd in die bioskoop (fliek) gaan sit, om die nuutste James Bond film te aanskou. Snaaks hoe die bomme, dood en gevaar wat jy beleef uit die sagte rooi stoele heeltemal anders as die daar buite opgeneem word. Binne is dit aksie, daar buite is dit aaklig. Dit raak bietjie angswekkend as die realitiet so eenders raak aan die storie op die silwerskerm.

Wat ek wel baie vreemd vind hier, is dat die terroriste stories en die vlugteling in die oë van baie mense hand aan hand loop. Ons het Vrydag in die skool 'n voorlesing gehad en daarna het ons 'n gesprek gevoer met die man, 'n plaaslike politikus. Die ouditorium vol tieners was vol vrae oor die hele krisis wat op die oomblik aan die gang is in Duitsland. Baie van die kinders weet ook maar net wat hulle hoor of lees op Facebook en hierdie Meneer kon as 'n bron van konkrete feite dien. Op die ou einde het dit daarop neergekom dat die vlugtelingkrisis juis dit is: 'n krisis. Dit word wel op so 'n manier hanteer dat die mense regtig nie bekommerd hoef te wees nie...

Hierdie onderwerp sal nog voortgesit word, wanneer my vingers weer die geleentheid kry om die sleutelbord aan te val, in hierdie land wat nie Suid-Afrika is nie.


No comments:

Post a Comment