Hierdie week was weer ons eerste skoolweek na die vakansie. Soos ek reeds genoem het, het hulle hier in Duitsland drie verskillende vlakke van skool. Ek het hierdie week na een van die ander vlakke geskuif - die Gimnasium. Ek het ook 'n "sprong" na graad tien gemaak. Mens kan baie skryf oor wat 'n skool beter of slegter maak: 'n skool bly eenvoudig 'n skool. Dit is die gesindheid van die mense wat werklik die verskil maak.
Tot dusver ervaar ek die skool hier as net dit - 'n skool. 'n Akademiese instansie wat verantwoordelik is vir die leer en onderrig van kinders. In Menlopark word die skool nie net deel van jou daaglikse roetine nie, dit word deel van jou hart. Ek dink dit het iets te doen met die feit dat ons saam as 'n skool aan sport, kultuur en vele meer deelneem. Hierdie kompetisie bou tradisie, 'n tipe patriotisme.
Verder begin dit nou vir my voel asof ek werklik my voete hier begin vind. Elke dag is nie noodwendig op sy eie 'n avontuur nie, maar dit vorm alles deel van die avontuur wat ek, my lewe noem. Hierdie naweek was egter weer heel interessant. Ek was Saterdag met twee vriende wat ek hier gemaak het na die Erlebnis Zoo Hannover. Die dieretuin self is ongelooflik mooi gemaak. Die dieretuin is in temas ingedeel en is dan ook volgens hierdie temas gebou. Die grootste deel van die dieretuin (tot my spyt) was die Afrika afdeling. Verder was daar 'n Yukon afdeling wat alles van wolwe tot die Amerikaanse bison bevat het. Oor die algemeen was dit 'n wonderlike ervaring. Die weer op die oomblik is fantasties hier. Volgens die mense hier is Suid-Afrika nie die enigste plek waar dit op die oomblik buitengewoon warm is nie. Ek hoop en bid net, dat daar van ons reën die pad huistoe vind.
Wat ek verder vreemd gevind het is dat daar honde binne die dieretuin toegelaat word. Daar is wel 'n paar redes hoekom ek dit nie persoonlik sou doen nie. In die eerste plek kos dit R 125 om die hond in te vat. Verder kan mens (natuurlik) ook nie al die afdelings betree met 'n hond aan jou sy nie. Een van die groep moet dan alleen met die hond buite wag. Ons het daarna die aand 'n film in die kerksaaltjie gaan kyk- Honig im Kopf. Dit is 'n Duitse fliek, ook hier geproduseer. Ek moet ongelukkig erken dat dit effens beter was as ons plaaslike geproduseerde films. Dit is regtig 'n hartroerende verhaal wat handel oor 'n dogtertjie en haar oupa, wat Alzheimer ontwikkel. Alhoewel dit nie heeltemal realisties uitgebeeld word (soos aan my verduidelik deur my gasma wat daagliks met hierdie tipe ding werk) het dit definitief 'n paar gevoelens in my wakker gemaak en het ek ook na my eie grootouers verlang.
Ten slotte, dit was 'n goeie week in die lewe van 'n uitruilstudent, maar Duitsland word nogsteeds nie Suid-Afrikia nie.
No comments:
Post a Comment