Monday, 2 November 2015

Dag 24: 'n Perspektief Wisseling

Dou voor dag was ons wakker en gereed om te vertrek. My familie hier het my die ongelooflike voorreg gegun om na die hawestad Hamburg te vaar. Die autobahn was leeg soos die son nog sy strale agter die horison probeer hou het. Ons het so uur en 'n half later by die Fischmarkt in Hamburg uitgeklim. Ek het gedink dit gaan 'n vismark wees, daar was vis, maar dit was meer soos 'n vloeimark met 'n ongesonde hoeveelheid visstalletjies. Dit vind elke Sondag oggend in Hamburg plaas, en vir twee en 'n half ure kriewel die strate tussen stalletjies, waar verkopers staan en hard skree om so kopers te lok en hul produk as die beste te adverteer. As die mark om 9:30 tot sy einde kom, verdwyn mense met hande vol pakkies - en stalletjies word deur rooigesig en stemlose eienaars opgepak.

Ons het van daar af na die Miniatuur Wonderland gegaan. Daar is vir my vooraf gesê dit gaan fantasties wees, maar natuurlik het die gedagte Ag hoe goed kan 'n model nou regtig wees in my agterkop gesit. Hierdie uitstalling, begin deur twee broers, het nie net hierdie negatiewe gedagtes nie, maar ook my asem weg geslaan. Dit is 'n ongelooflike belewenis om die wêreld totaal van bo af te sien, dit is soos om uit 'n vliegtuig te kyk, maar jy kan al die fyn besonderhede waarneem. Daar is so baie fyn besonderhede dat dit jou brein totaal oorweldig en naderhand kan jy net eenvoudig nie al die inligting wat jou oë sien innneem nie. Ons het eerste 'n draai in Switserland gemaak, waar treine op spore deur die alpe heen en weer beweeg. Alle meganiese modelle beweeg, en daar is orals liggies wat skyn. Elke vyftien minute is dit nag, en dan ry die model karretjies, vragmotors en polisie deur die verligte strate van Bayern, Las Vegas en Hamburg self. Daar word 'n lughawe uitgebeeld waar vliegtuie land en opstyg en goedere en mense op die lughawe heen en weer vervoer word (alles natuurlik op skaal gebou). Na die tyd vol jy soos 'n reus wat op die mensdom neerkyk.

Na 'n heerlike middagete is ek verras met 'n hawe rondvaart.  As jy deur een van die grootstes in Europa vaar voel jy baie klein. Ek, al dertig mense saam ons en natuurlik die boot waarop ons was is deur die massiewe masjiene gedwerg. Sodra mens dink die skepe is groot sien mens die plekke waar die skepe herstel word, die skip word heeltemal uit die water gelig in die sogenaamde "Dry Docks" In hierdie kort vaart deur die hawe sien jy (natuurlik) 'n groot verskeidenheid skepe, soos oorlogskepe (wat nou iets soos behoud-van-vredeskepe genoemk word). Mens sien ook natuurlik veel van Hamburg se geboue. Die mees opvallende een is die Elbphilharmonie Hamburg - hierdie gebou is 'n bewys dat ons nie in Suid-Afrika alleen is met ons stryd nie. Die onvoltooide gebou wat alreeds klaar moes wees, in 2009, het oorspronklik 'n begroting van €180 miljoen euro geniet, maar is nou naby aan €800 miljoen, en die einde is nognie heeltemal in sig nie.

Na die skipvaart begin mens wonder of jy ook net soos een van die klein figuurtjies in die uitstalling is. Deur 'n kunstenaar daar gesit op jou plekkie in die wêreld.


No comments:

Post a Comment