Sunday, 15 November 2015

Dag 37

Vandag het so stadig en rustig soos net 'n Sondag kan, ontwaak. Dit is die Duitse "Volkstrauertag" vandag. Die ingebruikneming van hierdie dag het reeds begin na die Eerste Wêreld Oorlog, en alhoewel die datum al 'n paar keer verander het is dit vasgestel dat hierdie, as herdenkingsdag sal dien vir die oorledenes van die groot oorloë. Dit vind plaas op die tweede laaste Sondag van die kerkjaar. Ons was vandag by die kerkdiens in 'n klein dorpie hier naby genaamd Hayersum.

Ek het die diens pragtig gevind, dit was regtig fantasties om weer in die kerk te kom. Die diens was gevul met die groot temas wat op die oomblik die Duitse nuuswêreld oorweldig. Dit het gewissel tussen die vlugtelingskrisis, die dood van Helmut Schmidt (Oud Bundeskanzler van Duitsland) en dan natuurlik die aanvalle wat Vrydag in Parys plaasgevind het. Die laasgenoemde gebeurtenis was so onlangs dat die pastoor nie eintlik op dit voorbereid was nie. Dit was 'n wonderlikke samevatting van hoe ons die pyn en lyding van hierdie lewe moet benader. Gelos deur die woorde van Matteus 25:"Ek was honger, en julle het my iets gegee om te eet..." is ons aangespoor om die swaarkry in die wêreld te beveg met absolute goedhartigheid van ons kant af.

Die diens het geëindig met 'n kraanslegging, waargeneem deur die freiwillige feuerwehr, en begelei deur my gaspa se trompet. Hy het ongelooflik gespeel. Die melodieë van Nader my God by U en Genade Onbeskryflik Groot het saam met die druppels van die mistroëstige weer saamgesmelt in 'n hartseer huldeblyk.

Vandag was Sondag middagete in my hande, en aangesien ek nie 'n Suid-Afrikaanse kookkuns kokkedoor is nie, het ek besluit om een van my gunstelinge te kook, Coke-hoender. Dit was wel 'n uitdaging om iets vir die eerste keer te kook in 'n ander land sonder die hulp van jou moeder. Wat die ete aanbetref was dit heeltemal eetbaar, maar daar was definitief plekke vir verbetering, wat ek nog in die toekoms sal benut.


No comments:

Post a Comment