Wednesday, 9 December 2015

'n Wonderlike Naweek, (Dag 58-60 ongeveer)

Ek het nou eintlik redelik baie tyd om te skryf, want ek is nou offisieel siek. Ek is nou al eintlik vir 'n week en 'n half siek, maar dit was nognie bevestig nie. Ek het toe gister 'n draai by die dokter gaan maak, so nou is ek afgeboek tot Vrydag. Volgends my geaardheid is ek egter baie stadig om te erken dat ek tyd het, want dan laat ek ruimte vir verveeldheid in, maar skryf moet daar geskryf word.

Soos ek reeds genoem het, was die naweek wat verby is werklik 'n ongelooflike ervaring. Ek is Saterdagaand na 'n sestistigste verjaarsdag partytjie uitgenooi. Dit is nou nie noodwendig die plek waar elke sestienjarige seun dink hy sy Saterdagaand wil spandeer nie, maar ek het mos gesê ek gaan nuwe goed probeer. Om na die verjaarsdag van 'n tannie, wat die ma van die dirigent van 'n koor is waarin my gaspa sing, te gaan is virseker iets nuuts vir my. Die koor (waarin ek nou vir hierdie tyd ook sing) het daar opgetree. Die optrede het 'n verskydenheid interessante liedere bevat, onder vele andere een waar ek in Lederhosen, met 'n halsdoek en 'n hoed met my Ukulele tussen die mense moes dans en sing. Al is 'n sestigste nie noodwendig die normale plek vir 'n sestienjarige seun nie, is ek definitief nie 'n normale sestienjarige seun nie (gelukkig is ek al bewus van hierdie feit)

In elk geval van hier af het die partytjie net lekkerder geword, ek het baie lekker met al die Duitse mense gepraat en gekuier. Toe my gaspa nege-uur sê hy moet huistoe, het ek half grapperig gevra: "Hoekom dan so vroeg?" Die tannie wie se verjaarsdag dit was het dit gehoor en net daar besluit ek slaap daar vir die aand. Ek was eerste stomgeslaan, want ek bedoel ek ken eintlik gladnie die mense nie. Die aand verder was in elk geval heerlik gewees, die mense is ongelooflik vriendelik en oulik met my. Ek het gevra dat hulle my die volgende oggend wakker maak en saam kerktoe vat. Dit het beteken dat ek drie uur in die bed en weer nege uur uit was, wat nie heeltemal onbillik is nie.

Die kerkdiens, was weer mooi gewees in die klein dorpskerkie. Duitsland wemel met die tema van advent en kersfees. Sondag was dan ook nog Nikolaus, 'n dag wat ons nie so sterk fier daar in die suide van die wêreld nie. Die tradisie is eintlik iets in die lyn van 'n vroeë kersfees. Die kinders moet hulle skoene poets en dan in die nag vir St. Nikolaus los. As jy soet was deur die jaar kry jy 'n skoen met lekkernye en klein geskenkies volgestop. Na die kerkdiens is ek voorgestel aan Samuel Steinert, wat saam sy ouers vir dertien jaar in Suid-Afrika gewoon het voor hulle terug na Duitsland getrek het. Dit is ongelooflik hoe klein die wêreld is, want hy was saam my nefie in die Duitse skool in Pretoria. Ek dink egter as dit in Suid-Afrika was sou ons nooit mekaar leer ken het nie, maar hier in 'n klein Duitse dorpie Sibbese het ons stories oor Suid-Afrika gedeel. Ek en hy het toe vir 'n uur na kerk kitaar gespeel en gesing, en toe is ek weer huistoe.

Daar is 'n paar keer wat mens net moet stop, staan en oorweeg: "Wat is die kanse?" En die antwoord wat dan in my kop in pop is gewoonlik asemrowend.

No comments:

Post a Comment