Saturday, 31 October 2015

Dag 22 Deel 1: Koor

Dit is reeds redelik laat, maar ek dink ek moet hierdie tyd neem om te skryf oor van die goed wat die afgelope paar dae hier plaasgevind het, aangesien ek nou eers eintlik tyd kry. Dit gebeur soms dat mens vir 'n tydperk nie veel doen nie en dan voel dit asof alles saam in een dag gebeur. Soos ek reeds genoem het sing ek hier saam met die oom en tannie in verskillende kore, en gister was dit my eerste optrede...in altwee.

Die eerste een sal ek nie juis 'n konsert noem nie - dit was by 'n begrafnis. Ek het wel nie in my wildste drome gedink dat my eerste kerkdiens (of kooroptrede), in Duitsland, by 'n begrafnis sou wees nie. Dit was vir my 'n eerste om by 'n begrafnis te wees waar ek nie die oorledene, die familie of die vriende ken nie, en boonop in 'n vreedme taal. Die diens het ek egter pragtig gevind, en al was dit nie onder die ideaalste omstandighede nie, was ek bly om weer by die kerk uit te kom. Dit is maklik om Godsdiens as van selfsprekend te beskou by die huis, daar word dit so maklik gemaak. Ons open by die skool, as die die skool sluit bid ons saam, ons bid voor etes, gaan kerk toe en het Sondagskool...hier is dit nie heeltemal so eenvoudig nie.

Ons het na die begrafnis nog so 'n bietjie in Hildesheim rond gery ons was by St. Michaelis kerk. Dit is ongelooflik mooi, en ongelooflik groot, maar is net nog een van die vele vir die mense hier. Later die middag het ons na 'n klein dorpie, Nette, gegaan vir my tweede konsert van die dag - saam met 'n ander koor. Voor die konsert het ons almal saam gekuier en bockwurst geëet. Die konsert was fantasties, in die klein plaaslike kerkie. Dit was spesiaal toe ek twee keer as die nuutste lid uit Afrika genoem is, ek neem aan dit is iets nuuts vir die koor en natuurlik ook iets anders vir die gehoor.

Dit was uit en uit 'n fantastiese konsert, maar die dag was nognie naby aan sy einde nie.


Wednesday, 28 October 2015

Dag 020

"Hy stap stadig deur die donker strate. In die vêrte skyn 'n eensame straatlig en dra die rooi gloed van die verkeerslig by tot die nag se onheilspellende atmosfeer. Elke wit asemteug word gou deel van die mis rondom hom, wat die straal van sy flitslig so duidelik weerkaats. Die volmaan sluip deur die herfsblare, wat die bome nog skraps beklee, maar bring geen warmte nie net yskoue lig.  Die vier pote langs hom maak die enigste geluid wat durf om deur die stille nag te sny, soos skerp naels oor klippe krap..."

Dit klink soos die inleiding van 'n spanningsroman. Dit is egter nie, dit is 'n redelike akurate beskrywing van van my wandel met die hond gisteraand (Dalk effens oorgedramatiseer). Miskien is ek paranoïes, maar ek vind dit nognie heeltemal normaal om twaalf uur die nag alleen rond te stap nie, dit voel vir my soos moeilikhied soek. Die siening oor veiligheid is duidelik anders hier, en ook vir 'n rede. Ek het tot dusver nog geen rede gehad om onveilig te voel nie, al het mens nie hier hoë mure, elektriese drade, diefwering, 'n alarmstelsel of geslote deure nie. 

As daar een ding is wat mens vinnig agterkom is dat mense se manier om dinge te sien verskil- dus verskillende mentalitiete.  Of hierdie verandering in 'n mens se uitkyk ontstaan as gevolg van 'n verskil in kultuur, taal, omgewing of agtergrond weet ek nie, maar ek glo dit is 'n kombinasie van hierdie en meer faktore. As ek met my vriende in Suid-Afrika praat word my gedagtes terug getrek na 'n wêreld van stres, leer en vraestelle skryf. Iets wat op die oomblik vir my amper ongeloofwaardig voel, onrealisties.



Saturday, 24 October 2015

Dag 017: 'n Sportdag

Daar moet nie nou eintlik geskryf word nie, aangesien die Springbokke dit effens vermoeilik het om uit 'n positiewe oogpunt te skryf, maar nietemin, vandag was 'n uitsonderlike dag.

My gasgesin, alhoewel baie vriendelik en goedhartig, is ongelukkig nie sportliefhebbers nie. 'n Plan is 'n ding wat hul wel baie goed kan maak. Ek is om twee-uur, saam met die bure, na die HDI Arena weg. Dit is die tuisveld van die sokkerspan Hannover 96. Vandag was die stryd teen Eintracht Frankfurt. Soos meeste dinge doen Duitsers ook hulle sokker effens anders. Die atmosfeer in die stadion was ongelooflik, asemrowend en tot 'n mate onbeskryflik (ek sal wel my beste probeer) Die skare het so 'n drie-kwart van die stadion volgepak geklee in die wapenrusting van die sokkertoeskuier: Warm klere (met jou sokkertrui as die boonste laag), 'n Hannover 96 serp, bewapen met 'n beker goudgeel bier en natuurlik 'n bors vol liedere.

As mens die stadion binnekom word jy gegroet met die gons van duisende stemme. Ek het op 'n goeie plek gesit aangesien ek redelik naby aan die veld en die egte Hannoverane was. Die hele noordpawiljoen word gereserveer vir die "in-murg-en-been" ondersteuners en dit is hulle gebrul wat elke sitplek in die stadion laat vibreer. Wat die sokker self aanbetref het beide spanne nie daarin geslaag om in die eerste helfte 'n doel te aan te teken nie, en die probeerslae was taamlik power.  Die tweede helfte was kort onderweg toe die tuisspan die eerste keer die bal in die net kry. Die skare het oombliklik met 'n kakofoniese gejuig losgebars. Net so skielik soos wat die jolyt begin het is dit weer in die wiele gery toe 'n doel verby die Hannover doelwagter glip. Die skare was letterlik stomgeslaan.

Kort daarna het 'n doel deur Frankfurt klaarblyklik die einde van Hannover se wenpogings beteken. Iemand het wel vergeet om dit vir die skare te vertel. Met koppe omhoog het hulle hul span uit volle bors aangespoor. Die meerderheid van die stemme van die ongeveer 44 200 mense in die stadion was egter nie genoeg om Hannover van die nederlaag te red nie.

Een ding wat ek wel opgemerk het was dat die stadion nie 'n rookvrye sone was nie, maar die rook het later ook tot die atmosfeer bygedra. Dit voel vir my asof hier meer mense is wat rook in Duitsland, want mens sien meer mense wat rook hier. Feitlik weet ek nie hoe korrek die stelling is nie (Wikipedia sê in Duitsland rook 27% van die populasie waar Suid-Afrika dit slegs 16.4% is, natuurlik ook nie die mees betroubaarste bron nie). Op die oomblik  is ek bietjie hartseer. Of dit as gevolg van die Springbokke wat verloor het is, of ontrekkingssimptome van al die rook wat ek vandag ingeneem het is, weet ek nie heeltemal nie.  Een ding weet ek: Sokker in Duitsland is definitief die moeite werd.

Die sokker was uit en uit 'n uitsonderlike ervaring.




Friday, 23 October 2015

Dag 016

Ek voel nie afgesper van die wêreld in Suid-Afrika nie, inteendeel, ek het uncapped WIFI ('n voorreg wat ek nie tuis geniet nie).  Tans is daar soveel Sosiale Media, dat jy voel jy kan dit amper nie vermag om op hoogte te bly nie. Daar word so baie fotos "gepost". Oor een ding het ek geen twyfel nie: Menlopark het 'n matriekafskeid gehad.

Hierdie is om en by die tyd wat mens veronderstel is om af te skaal om op jou leerwerk te fokus. Ek noem die woord "veronderstel", want dit is selde wat gebeur. Die realiteit is dat jy steeds met al jou aktiwiteiete moet voortgaan, met 'n knaende gevoel dat jy eintlik jou tyd voor die boeke moet deurbring. Rustyd word nou tydmors. 'n Gevoel wat enige student te goed ken en 'n gevoel wat ek hierdie jaareind vryspring.

My eksamenstres word vervang met ET-stres. Maar in hierdie "blockbuster" (ongelukkig nie deur Steven Spielberg nie) is ek die vreemde wesen. Ek het ook geland op 'n ander planeet en is aangeneem deur vriendelike vreemdelinge. Alhoewel dit nie my doel is nie, weet ek ook ek moet my vlug vind om terug by die huis te kom. Ek kan wel nie fietse laat vlieg nie en ek het dit ook al 'n paar keer reg gekry om huistoe te bel. H-P die E.T. Die stres wat ek hier ervaar is dié van 'n nuwe taal, 'n nuwe land en dan ook natuurlik 'n nuwe gesin.

My Regisseur hou egter die lysels styf vas en het nognie my karakter in gevaar en bedreiging gedompel nie. Ek lees elke aand Sy notas en toneelaanwysings, om te verseker ek speel die rol wat Hy vir my uitgelê tot my volle potensiaal.

Duitsland is nie Suid-Afrika nie.

Tuesday, 20 October 2015

Dag 013

Vryheid is een van die grootste voorregte wat mens vir 'n kind kan gee. Dit is ongelukkig nie altyd moontlik in Suid-Afrika nie. As gevolg van omstandighede word ons vryhede soms effens ingeperk. Vandag was so 'n vrye dag. Ek kon vandag vryheid in my onafhanklikheid geniet. Duitsland se veiligheid en natuurlik die baie goeie publiekevervoer-stelsel maak dit moontlik dat jy op jou eie by enige plek kan uitkom. Ons, ek en Jacob, is vandag in die naaste goot klein-stad afgelaai, Hildesheim; daar het ons te voet by verskillende winkelsentrums 'n draai gemaak. Van daar af is ons na die busstop, maar aangesien die bus te laat sou kom het ons besluit om eerder na die Bahnhoff te stap. Daar het ons per trein, tot by die buurdorpie van ons woondorp gekom. Die laaste stuk het ons weer te voet afgelê. Hierdie is alles gedoen, sonder bekommernisse of ons veilig is of op die regte pad is, want die goeie ding van treine, busse en paaie is: daar kom altyd nog een.

Verder was ek ook  die aand by 'n kooroefening saam met die Tannie. Dit is 'n gospelkoor, wat oor die algemeen Engelse en Afrika gospelliedere sing. Ek het al die pad na Duitsland gereis om hier Sotho te kom sing. Die kooroefening is egter baie lekker, en ek geniet dit onder die koormense. Dit voel soms regtig daar is 'n internasionale taal van musiek.

Toe ek moeg en honger by die huis aangekom het, het die Oom vir ons 'n broodbord met kase, vleise en meer uitgelê. 'n Baie goeie manier om my bloot te stel aan verskillende onbekende produkte. Dit was oor die algemeen 'n aangename dag, maar - Duitsland is nie Suid-Afrika nie.

Sunday, 18 October 2015

Dag 011

Vandag was 'n goeie dag gewees. Elke wolk het tog 'n silwer randjie, vandag se silwer randjie, was die silwer randjie. Die son het vir die eerste keer in dae deur die wolke gebreek om ons te seën met 'n helder gloed. Alhoewel dit nog hier op die bodem koud bly, het my gesig gedans in die warmte wat die son beloof.
Ons was vandag by 'n wildpark gewees. Hierdie keer, 'n groter een. My gasouers wou my die sogenaamde Duitse "Groot Vyf" wys. Om eerlik te wees het ek die diere fantasties gevind, aangesien hulle totaal en al vreemd was. Van die vyf het ek net vier besigtig: die wolf, die elk, die lynx en die Europese bison. Die bruinbeer was egter vandag skugter en het ons nie die voorreg gegun om hom te aanskou nie. Aan die einde van ons besoek het die wolke weer begin saampak, maar die reën het gelukkig weg gebly.
Ek hoop die taal kom aan, want dit is nie asof ek minder praat nie. Al is ek nie heeltemal seker wat ek besig is om te sê nie, sê ek dit nogsteeds. Dit gaan meer as 'n vreemde taal vat om my stil te hou.
Ek vind elke dag iets nuuts oor Duitsland uit. Of ek 'n aanname maak, tot 'n gevolgtrekking kom of as iemand iets aan my vertel, sien ek alles as waarnemings van die Duitse volk. Ons klas het Vrydag Sport gehad. As ek die klas as 'n steekproef van die Duitse jeug kan neem (wat ek weet nie heeltemal korrek is nie) het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die kinders in Duitsland nie so liggamlik gefokus en gebou is soos daar in Suid-Afrika nie. As gevolg van die feit dat ons in Suid-Afrika aan baie sport deelneem lyk baie van ons kinders fisies goed, en die wat nie doen nie wil graag. Ons het Rugby spelers wat dag na dag in die gym is, atlete wat daagliks hardloop, hokkie, netbal en vele meer om ons kinders goed te laat lyk. Die seuns hier is almal of baie maer (soos daardie mense wat nie vet word nie) of redelik bonkig. Dit is ook moontlik dat ek dit net so beleef het.
Duitsland is nie Suid-Afrika nie.

Wednesday, 14 October 2015

Dag 007

'n Week gelede, ongeveer hierdie tyd het 'n vliegtuig opgestyg. Onder vele andere het ek daar gesit, oppad na die onbekende, met 'n tas vol klere en 'n hart vol verwagting. Dit is nou al 'n week later en alles voel steeds vir my besonders onbekend.

In die huis is dit eintlik heel normaal, neem ek aan, elke huis dink egter hoe hul maak is die norm. Hierdie huis se norm verskil wel van ons huis s'n. Dit is nie groot verskille wat dadelik gemerk word nie. Dit is die reëls van die huis wat mens so stadig maar seker optel, soms word dit aan jou genoem, soms gesê en soms word dit gemerk aan lyftaal. Mens leer taamlik vinnig lyftaal lees as jy in 'n land is waar jy nie heeltemal die taal magtig is nie. My "Escape plan" is natuurlik om net my kop te knik en rustig te lag asof ek die gesprek wat die mens met my het 100% verstaan.

Ek het vandag my eerste toets in Duits geskryf...wiskunde. Alhoewel Graad 9 wiskunde nie besonders moeilik is nie, raak dit baie interessant as jy nie heeltemal weet wat gevra word nie en as jy eers uitvind, nie weet hoe die onderwyser die antwoord soek nie. Die feit dat ek nie 'n sakrekenaar byderhand gehad het nie, het ook nie dinge vergamaklik nie.  Ek het my toets heel laaste van almal ingegee en wat ek daar geskryf het is ek self nie heeltemal seker nie. Ten minste het ek probeer.

Die weer hier is uiters Brits. Die son het nie vandag een keer deur die digte wolkbank gebreek nie.Dit het byna ook die heel dag liggies gereën. Nie genoeg om jou swaar te hinder nie, maar net die regte hoeveelheid om jou te irriteer. "Mense" sê dit is die Europese weer wat jou vang, ek glo hulle. Dit is nie regtig dat die weer jou sleg laat voel nie, maar as jy enigsins ongelukkig voel, voel dit asof die hele hemelruim jou gevoelens reflekteer. Binnekort verval jy ook in 'n grys, koue, liglose wese - soos van die mense in Duitsland.

Duitsland is nie Suid-Afrika nie.

Dag 005: Skool

Vandag in Suid-Afrika was die begin van die vierde en laaste kwartaal. Klasse het heelmoontlik met gesprekke oor die kort vakansie gegons en vriende het mekaar gegroet asof hulle mekaar jare laas gesien het. In Duitsland was vandag net nog 'n Maandag, maar vir my was dit my eerste Duitse skooldag. 

Dit is nou herfs in Duitsland. Dit voel nie so nie. Oppad na die bus het die gras gekraak soos wat dit in die koue nag wit geryp is. Die bus was half agt daar gewees, vol Duitse kinders in baadjies, musse en serpe. Na ongeveer tien minute het ons by die skool uitgeklim. Kom ek verduidelik die agtergrond van die Duitse skool waar ek tans is. Die skool is 'n " ko-oporative gesamschule" wat basies beteken dat dit al drie die Duitse skoolsisteme bevat. Die skool is verdeel in drie sisteme volgens akademie: Die Gymnasium, Real en dan die Hauptschule. Jack is in die Realschule-deel en ek is saam met hom in Graad 9.

Die klas verkeer in redelike chaos, as die onderwyser nie daar is nie. In hierdie skool het hulle net drie periodes per dag,wat elk omtrent twee ure lank is, met 'n pouse tussen in. Die dag het begin deur ek wat myself voorstel as Hans-Peter uit Suid-Afrika en die kinders wat vir my lag. Dit was so erg dat een kind homself moes verskoon om klaar te gaan lag in die gang. Vir een of ander rede vind die Duitse jeug 'n wit Suid-Afrikaner, uit Afrika, wat Duits praat met 'n Afrikaanse aksent hoogs onwaarskynlik. Dit maak my dag meer interessant.

In die eerste periode het ons 'n mengsel van LO en Besigheids gehad, wat my nie verskriklik geinteresseer het nie, ongeag in watter taal dit aangebied sou word. Die tweede periode was egter beter - Geskiedenis, om meer spesifiek te wees: Die Tweede Wêreldoorlog. Die wêreld maak baie aannames oor hoe die Duitsers hierdie sensitiewe geskiedenis van hul hanteer. Die realiteit is dat hul dit presies dieselfde doen as ons in Suid-Afrika en, as ek 'n aanname mag maak, oor die res van die wêreld. Vir helfte van die periode het die leerders mondelinge gedoen oor die invloed van propaganda in Hitler se Dritte Reich, en vir die res van die tyd het ons n video gekyk. Die ooreenkomste met 'n graad nege Geskiedenisperiode by meneer van Helsdingen was deurentyd daar.

Ons het die laaste periode af gehad so ons was weer half twaalf by die huis gewees. As jy af het kan jy waai.

Duitsland is nie Suid-Afrika nie.



Sunday, 11 October 2015

Dag 004

Vandag was my eerste Sondag weg van die huis af. Mense sê dat Sondae die swaarste dae is om nie by jou familie te wees nie. Alhoewel ek nie heeltemal seker is wie die "mense" is nie, is hulle vir een of ander rede reg. Ek sal dit nie al as heimwee beskryf nie, maar daar is al meer 'n gevoel van verlange as die vorige dae.

Ek dink dit kan toegeskryf word aan 'n paar dinge. Die mense doen presies wat ons doen op 'n Sondag, taamlik min. Dit gee mens 'n bietjie tyd om te dink en voor jy weet begin jou gedagtes na die mense by die huis dwaal. Ons het wel vandag iets gedoen.

Dit was vandag nege grade...maksimum. Dit het ek verwag,maar die vreemde ding is dat die lug potblou is en die son helder skyn. Ons was by 'n wildpark, wat meer eintlik 'n dieretuin is met groot kampe. Daar was 'n paar diere wat ek nog nie voorheen besigtig het nie. Ek het regte takbokke gesien, veelkleurige fisante, koeie (wat meer hare het as meeste mans in Duitsland), 'n wasbeer en natuurlik Asterix en Obelix se aandete...wildschwein. Die Duitsers hanteer hulle diere anders as die Suid-Afrikaners. As Abby, die hond, byvoorbeeld saam ons gaan stap, word daar vir haar gewag, niks van ruk en pluk aan 'n band nie, jy wag. Dit is nie dat ons in Suid-Afrika nie ons diere met respek hanteer nie, maar hier voel dit vir my die diere is werklik 'n mens in die gesin.

Ons het vandag gegrill (Direk vertaal sal dit as braai geklassifiseer word). Dit was baie lekker, maar dit was nie heeltmemal Suid-Afrikaans nie. Die vleis hier smaak effens anders, nie sleg nie...net anders. Christiane se broer was hier gewees vandag en hy is een van die mense wat nie veel oor Suid-Afrika weet nie. 'n Goeie bewys dat die mense wat dink, dat ons almal nog baie primitief in Afrika leef, wel bestaan.

Duitsland is nie Suid-Afrika nie.


Saturday, 10 October 2015

Dag 003



Dit is tegnies my derde dag in Duitsland. Die uitdaging lê nie in die feit dat jy 'n nuwe lewe moet lewe nie, maar in die feit dat jy jou ou lewe moet lewe in 'n plek wat totaal anders is as wat jy gewoond is. Duitsland is wel nie Mars nie, hier bly normale mense wat dinge net anders doen.

Dit is die klein goed wat mens agterkom wat aan die begin 'n redelike groot verskil maak.
Die eerste paar aanpassings:
  1. Op die oomblik is ek besig om redelik te sukkel met die feit dat die sleutelbord (keyboard) in Duitsland anders is as die in Suid-Afrika, 'n sogenaamde QWERTZ keyboard.
  2. Die mense hier ry aan die verkeerde kant van die pad. Hulle redeneer natuurlik dat dit die regte kant is, maar daar is geen manier dat 'n mens aan die linker kant moet sit en bestuur nie. Dit maak eenvoudig net nie sin nie.
  3. In Duitsland mag jy net lekker gebruik as jy oor kos praat (Dit is glad nie lekker nie)
Ek ondervind ook verdere uitdagings:
As uitruilstudent wil mens graag hê dat die mense kan sien jy is vreemd en verlore, en dan mooi stadig en rustig met jou praat. Daar ontstaan egter 'n probleem as jy meer Duits voorkom as helfte van die Duitse populasie. My naam is Hans-Peter Fechter, dit is so Duits as wat kan kom. Dit is so Duits dat die duitsers vir my lag en sê ek het 'n kommon naam. Buiten my naam is my voorkoms ook 'n probleem. Ek het in my kort drie dae met 'n skok besef dat Duitsers een van twee kleure is: Baie wit of baie rooi. Ek, ongelukkig, is albei en met my rooi hare lyk ek ongelooflik duits.

Duitsland is nietemin steeds 'n pragtige plek. Dit is herfstyd hier en die horsison word geverf met skakerings van warm rooi, geel en oranje. Dit reën baie en die wêreld is groen. Die plekke is baie oud. Hannover fier hierdie jaar hul 1200ste bestaans jaar, en as ek by die huis uitkyk sien ek die kasteel van die prins van Hannover, 'n lid van die oudste oorblywende koninklike familie in Europa.

Duitsland is nie Suid-Afrika nie


Wednesday, 7 October 2015

Dag 00

Die dag voor mens weggaan is net `n frustrasie. Ek is nou al moeg vir mense totsiens gese, dit is vir my heeltemal te emosioneel. Ek hoop darem hier is mense wat agterbly wat my gaan mis, maar ek glo so. Ek los `n paar goeie mense in Suid-Afrika om hopelik `n paar nuwes te gaan ontmoet.