Saturday, 31 October 2015

Dag 22 Deel 1: Koor

Dit is reeds redelik laat, maar ek dink ek moet hierdie tyd neem om te skryf oor van die goed wat die afgelope paar dae hier plaasgevind het, aangesien ek nou eers eintlik tyd kry. Dit gebeur soms dat mens vir 'n tydperk nie veel doen nie en dan voel dit asof alles saam in een dag gebeur. Soos ek reeds genoem het sing ek hier saam met die oom en tannie in verskillende kore, en gister was dit my eerste optrede...in altwee.

Die eerste een sal ek nie juis 'n konsert noem nie - dit was by 'n begrafnis. Ek het wel nie in my wildste drome gedink dat my eerste kerkdiens (of kooroptrede), in Duitsland, by 'n begrafnis sou wees nie. Dit was vir my 'n eerste om by 'n begrafnis te wees waar ek nie die oorledene, die familie of die vriende ken nie, en boonop in 'n vreedme taal. Die diens het ek egter pragtig gevind, en al was dit nie onder die ideaalste omstandighede nie, was ek bly om weer by die kerk uit te kom. Dit is maklik om Godsdiens as van selfsprekend te beskou by die huis, daar word dit so maklik gemaak. Ons open by die skool, as die die skool sluit bid ons saam, ons bid voor etes, gaan kerk toe en het Sondagskool...hier is dit nie heeltemal so eenvoudig nie.

Ons het na die begrafnis nog so 'n bietjie in Hildesheim rond gery ons was by St. Michaelis kerk. Dit is ongelooflik mooi, en ongelooflik groot, maar is net nog een van die vele vir die mense hier. Later die middag het ons na 'n klein dorpie, Nette, gegaan vir my tweede konsert van die dag - saam met 'n ander koor. Voor die konsert het ons almal saam gekuier en bockwurst geƫet. Die konsert was fantasties, in die klein plaaslike kerkie. Dit was spesiaal toe ek twee keer as die nuutste lid uit Afrika genoem is, ek neem aan dit is iets nuuts vir die koor en natuurlik ook iets anders vir die gehoor.

Dit was uit en uit 'n fantastiese konsert, maar die dag was nognie naby aan sy einde nie.


No comments:

Post a Comment