Wednesday, 14 October 2015

Dag 007

'n Week gelede, ongeveer hierdie tyd het 'n vliegtuig opgestyg. Onder vele andere het ek daar gesit, oppad na die onbekende, met 'n tas vol klere en 'n hart vol verwagting. Dit is nou al 'n week later en alles voel steeds vir my besonders onbekend.

In die huis is dit eintlik heel normaal, neem ek aan, elke huis dink egter hoe hul maak is die norm. Hierdie huis se norm verskil wel van ons huis s'n. Dit is nie groot verskille wat dadelik gemerk word nie. Dit is die reëls van die huis wat mens so stadig maar seker optel, soms word dit aan jou genoem, soms gesê en soms word dit gemerk aan lyftaal. Mens leer taamlik vinnig lyftaal lees as jy in 'n land is waar jy nie heeltemal die taal magtig is nie. My "Escape plan" is natuurlik om net my kop te knik en rustig te lag asof ek die gesprek wat die mens met my het 100% verstaan.

Ek het vandag my eerste toets in Duits geskryf...wiskunde. Alhoewel Graad 9 wiskunde nie besonders moeilik is nie, raak dit baie interessant as jy nie heeltemal weet wat gevra word nie en as jy eers uitvind, nie weet hoe die onderwyser die antwoord soek nie. Die feit dat ek nie 'n sakrekenaar byderhand gehad het nie, het ook nie dinge vergamaklik nie.  Ek het my toets heel laaste van almal ingegee en wat ek daar geskryf het is ek self nie heeltemal seker nie. Ten minste het ek probeer.

Die weer hier is uiters Brits. Die son het nie vandag een keer deur die digte wolkbank gebreek nie.Dit het byna ook die heel dag liggies gereën. Nie genoeg om jou swaar te hinder nie, maar net die regte hoeveelheid om jou te irriteer. "Mense" sê dit is die Europese weer wat jou vang, ek glo hulle. Dit is nie regtig dat die weer jou sleg laat voel nie, maar as jy enigsins ongelukkig voel, voel dit asof die hele hemelruim jou gevoelens reflekteer. Binnekort verval jy ook in 'n grys, koue, liglose wese - soos van die mense in Duitsland.

Duitsland is nie Suid-Afrika nie.

1 comment:

  1. Google, of beter - youtube bietjie "In Duitsland waar die wolke in gelid marsjeer". Jy gaan afkom op 'n gedig wat 'n oudleerling van ons, Danie Marais, geskryf het. Die animasie is deur Diek Grobler. Jy het my vanoggend aan die gedig sowel as die animasie herinner.

    ReplyDelete