Saturday, 24 October 2015

Dag 017: 'n Sportdag

Daar moet nie nou eintlik geskryf word nie, aangesien die Springbokke dit effens vermoeilik het om uit 'n positiewe oogpunt te skryf, maar nietemin, vandag was 'n uitsonderlike dag.

My gasgesin, alhoewel baie vriendelik en goedhartig, is ongelukkig nie sportliefhebbers nie. 'n Plan is 'n ding wat hul wel baie goed kan maak. Ek is om twee-uur, saam met die bure, na die HDI Arena weg. Dit is die tuisveld van die sokkerspan Hannover 96. Vandag was die stryd teen Eintracht Frankfurt. Soos meeste dinge doen Duitsers ook hulle sokker effens anders. Die atmosfeer in die stadion was ongelooflik, asemrowend en tot 'n mate onbeskryflik (ek sal wel my beste probeer) Die skare het so 'n drie-kwart van die stadion volgepak geklee in die wapenrusting van die sokkertoeskuier: Warm klere (met jou sokkertrui as die boonste laag), 'n Hannover 96 serp, bewapen met 'n beker goudgeel bier en natuurlik 'n bors vol liedere.

As mens die stadion binnekom word jy gegroet met die gons van duisende stemme. Ek het op 'n goeie plek gesit aangesien ek redelik naby aan die veld en die egte Hannoverane was. Die hele noordpawiljoen word gereserveer vir die "in-murg-en-been" ondersteuners en dit is hulle gebrul wat elke sitplek in die stadion laat vibreer. Wat die sokker self aanbetref het beide spanne nie daarin geslaag om in die eerste helfte 'n doel te aan te teken nie, en die probeerslae was taamlik power.  Die tweede helfte was kort onderweg toe die tuisspan die eerste keer die bal in die net kry. Die skare het oombliklik met 'n kakofoniese gejuig losgebars. Net so skielik soos wat die jolyt begin het is dit weer in die wiele gery toe 'n doel verby die Hannover doelwagter glip. Die skare was letterlik stomgeslaan.

Kort daarna het 'n doel deur Frankfurt klaarblyklik die einde van Hannover se wenpogings beteken. Iemand het wel vergeet om dit vir die skare te vertel. Met koppe omhoog het hulle hul span uit volle bors aangespoor. Die meerderheid van die stemme van die ongeveer 44 200 mense in die stadion was egter nie genoeg om Hannover van die nederlaag te red nie.

Een ding wat ek wel opgemerk het was dat die stadion nie 'n rookvrye sone was nie, maar die rook het later ook tot die atmosfeer bygedra. Dit voel vir my asof hier meer mense is wat rook in Duitsland, want mens sien meer mense wat rook hier. Feitlik weet ek nie hoe korrek die stelling is nie (Wikipedia sĂȘ in Duitsland rook 27% van die populasie waar Suid-Afrika dit slegs 16.4% is, natuurlik ook nie die mees betroubaarste bron nie). Op die oomblik  is ek bietjie hartseer. Of dit as gevolg van die Springbokke wat verloor het is, of ontrekkingssimptome van al die rook wat ek vandag ingeneem het is, weet ek nie heeltemal nie.  Een ding weet ek: Sokker in Duitsland is definitief die moeite werd.

Die sokker was uit en uit 'n uitsonderlike ervaring.




1 comment: