Vandag in Suid-Afrika was die begin van
die vierde en laaste kwartaal. Klasse het heelmoontlik met gesprekke
oor die kort vakansie gegons en vriende het mekaar gegroet asof hulle
mekaar jare laas gesien het. In Duitsland was vandag net nog 'n
Maandag, maar vir my was dit my eerste Duitse skooldag.
Dit is nou herfs in Duitsland. Dit voel nie so nie. Oppad na die bus het die gras gekraak soos wat dit in die koue nag wit geryp is. Die bus was half agt daar gewees, vol Duitse kinders in baadjies, musse en serpe. Na ongeveer tien minute het ons by die skool uitgeklim. Kom ek verduidelik die agtergrond van die Duitse skool waar ek tans is. Die skool is 'n " ko-oporative gesamschule" wat basies beteken dat dit al drie die Duitse skoolsisteme bevat. Die skool is verdeel in drie sisteme volgens akademie: Die Gymnasium, Real en dan die Hauptschule. Jack is in die Realschule-deel en ek is saam met hom in Graad 9.
Die klas verkeer in redelike chaos, as die onderwyser nie daar is nie. In hierdie skool het hulle net drie periodes per dag,wat elk omtrent twee ure lank is, met 'n pouse tussen in. Die dag het begin deur ek wat myself voorstel as Hans-Peter uit Suid-Afrika en die kinders wat vir my lag. Dit was so erg dat een kind homself moes verskoon om klaar te gaan lag in die gang. Vir een of ander rede vind die Duitse jeug 'n wit Suid-Afrikaner, uit Afrika, wat Duits praat met 'n Afrikaanse aksent hoogs onwaarskynlik. Dit maak my dag meer interessant.
In die eerste periode het ons 'n mengsel van LO en Besigheids gehad, wat my nie verskriklik geinteresseer het nie, ongeag in watter taal dit aangebied sou word. Die tweede periode was egter beter - Geskiedenis, om meer spesifiek te wees: Die Tweede Wêreldoorlog. Die wêreld maak baie aannames oor hoe die Duitsers hierdie sensitiewe geskiedenis van hul hanteer. Die realiteit is dat hul dit presies dieselfde doen as ons in Suid-Afrika en, as ek 'n aanname mag maak, oor die res van die wêreld. Vir helfte van die periode het die leerders mondelinge gedoen oor die invloed van propaganda in Hitler se Dritte Reich, en vir die res van die tyd het ons n video gekyk. Die ooreenkomste met 'n graad nege Geskiedenisperiode by meneer van Helsdingen was deurentyd daar.
Ons het die laaste periode af gehad so ons was weer half twaalf by die huis gewees. As jy af het kan jy waai.
Duitsland is nie Suid-Afrika nie.
No comments:
Post a Comment